Mick wei heel gelukkig in die lang veldgras kampie. Die son bak heerlik neer. Die merries is almal onder die bome, besig om die bas af te vreet. Hy weet sommer net in hoeveel moeilikheid hulle almal gaan wees wanneer hul mens dit sien, maar hy is nie lus om te stry nie. Hy wil veel eerder hoor waaroor hulle praat.
“Ek sê jou, dis wat hulle gesê het.”
“Nonsens. Hoekom sal hulle as diere wil identifiseer?”
“Net ons mens behandel ons goed… Het jy gehoor wat met—”
“Dis nie waaroor ons praat nie.” Die merrie byt sommer die ander een op die boud.
“Hierdie is die jaar van die vark.”
“Wie word…?”
Hulle almal kyk na Mick, maar hy hou net aan wei aan die welige gras. Hy hou eintlik meer van kikuyu, maar groeiende veld gras is lekker genoeg. Hy draai sy rug op hulle.
“Enigiemand in 1995 gebore?”
“Nie wat ek van weet nie.”
“Dalk ou Johan… Hy lê in die boonste kamp onder die akasia boom.”
“Mm. Dan is dit weer 2007.”
Die merries runnik lekker.
“Net Mick is in 2007 gebore…”
Hy voel skoon koud. Hoekom lag hulle so?
“Wel, dan moet hy hierdie jaar weg bly van rooi, blou en groen.”
“En verkieslik geel, grys, bruin en goud dra.”
Hulle runnik.
“Krismisrose kan hom geluk bring.”
Hulle runnik harder.
“En hy moenie oos of wes beweeg nie.”
Die merries maak so ‘n bohaai dat die hoenders in die vrugteboord begin gil en onder die perskebome wegkruip.
Mick kyk op na die son en draai sy lyf sodat hy nie oos óf wes gedraai is nie. Dis die laaste jaar wat hy aan kompetisies mag deelneem – sy mens het so gesê. En as hy wil wen, kan hy nie bekostig om ‘n jaar van ongeluk te hê nie.
Hulle mens kom uitgestorm om te kyk waaroor die merries en hoenders aangaan. Mick steur hom nie veel aan hulle nie – nie eens wanneer die merries raas kry oor die boombas nie. Hy herhaal vir homself die goed wat hy moet vermy – en die goed wat hom kan bevoordeel.
“Okei, Micky Baby, tyd om te oefen,” sê sy mens vir hom. Sy het groen aan.
Mick skrik en hardloop weg.
“Mick?”
Hy weier om naby die groen te gaan wat sy aan het. Hy hardloop eers een rigting en dan ‘n ander, versigtig om nie oos of wes te gaan nie. Hy sien sy mens staan onder ‘n boom – sy skud net haar kop en hou hom dop. Hy hou op om rond te hardloop.
“Ons sal later werk, Mick,” sê sy eindelik en loop weg. Sonder om aan hom te vat. Sonder om hom ‘n wortel of mielies aan te bied. Mick sak neer in die lang gras. Hy voel sommer sleg.
“Jy is ‘n vreemde een, Mick.”
Hy maak sy oë oop. ‘n Hoenderhen staan voor hom.
“Wat doen jy in my kamp?”
“Moet sien hoekom jy almal vandag mal maak.”
Hy sug en rol op sy rug.
“Dit help nie jy speel dood nie. Praat.”
Hy draai om en kyk vir haar. “Ag, Sara, dis die jaar van die vark. En ek is een.”
“O-kei. Jy weet jy is ‘n perd, né?
Hy verduidelik aan haar wat die merries gesê het.
“Wel, jy weet duidelik wat jy doen.”
“Sara!” roep ‘n haan vanaf die boord.
“Ek beter teruggaan voordat Oliver sy kammetjie verloor.” Sy loop weg.
Mick staan op. Sara is reg: Hy weet wat om te doen. Hy sien sy mens by die stal – sy het ‘n pienk hemp aan. Hy gallop na haar.
“Voel jy nou beter, Mick?” vra sy.
Hy maak al die regte geluide. Uit ‘n sak haal sy ‘n hand vol gebreekte mielie pitte uit. Sy hou haar hand oop en hy lek dit als op.
“So ‘n goeie seun,” sê sy en vryf sy skouer. “Is jy reg om vir die kompetisie te oefen?”
Hy maak al die regte geluide. Sy gaan by die toerusting kamer in om ‘n harnas te kry. Mick hoop sy vat die grys een. Maar sy kom terug met die bloue! Hy onthou dat die merries gesê het dat hy moet wegbly van blou. Ontsteld, wikkel hy die harnas af terwyl sy mens dit probeer opsit en vertrap dit onder sy groot hoewe.
“Mick?” vra sy mens versigtig.
Hy kyk hygend op van die grond. Sy lyk verwildered. Mick neem groot asem teue om te ontspan en gaap groot. Hy staan stil sodat sy aan hom kan vat.
“Miskien is dit tyd om te stop…” sê sy saggies terwyl sy hom oor sy bors vryf.
Mick druk haar met sy neus. Maar sy sien dit nie as aanmoediging om ‘n ander harnas te gaan haal nie. Sy sug, tel die vuil harnas op en loop weg.
Mick kyk haar agterna, nie seker hoe dinge skeef kon loop as hy ‘n kleur vermy wat hom ongeluk op die hals kan haal nie.
“Jy weet, dis al daardie mielies wat jy eet.”
Hy kyk af. Sara staan net buite die stal.
“Waarvan praat jy, hoender?” vra hy vererg.
“Perde is nie veronderstel om so baie mielies te eet nie. Jy weet dit kan verskeie siektes veroorsaak, nè?”
“Ja-a,” sê Mick stadig en dink aan die merries wat so maklik laminitis kry van te veel mielies, lusern en kikuyu.
“Wel, ek dink dit kan ander probleme ook veroorsaak – soos om ongeluk te bring al vermy jy alles wat dit kan veroorsaak soos die plaag.”
Mick knik sy kop. Hy kan absoluut sien hoe dinge skeef kan loop met té veel bederfies. Nie dat hy graag sy mielies wil opgee nie, maar ‘n perd moet doen wat ‘n perd moet doen.
Hy kyk rond en sien dat sy mens by tandlose Johan onder die akasia is – seker besig om hom fyn voer te gee. Mick haal diep asem. Met ‘n vreeslike gerunnik hardloop hy noord om sy mens se aandag te kry. Sy hardloop hom tegemoet.
“Wat is dit nou, Mick?” Sy kyk hom op en af om seker te maak dat hy nie ‘n besering het nie.
Hy hou haar stip dop.
“Mick?” Sy hou versigtig ‘n paar fyn gemaakte mieliepitte uit in haar oop hand.
Hy stamp haar hand en dit val op die grond. Die hoenders kom vinnig nader en eet die pitte. Sy mens sug.
“Julle gaan vet word as julle aanhou om alles te eet wat op die grond val.”
Die henne kêkkel in antwoord.
“Giggel maar lekker. Wanneer julle so vet word dat julle nie vinnig kan beweeg nie, gaan julle nog lelik deurloop wanneer die perde hardloop en nie omgee wie of wat in hulle pad is nie.”
Mick kyk af na die henne. Sara eet lekker en haar oë skyn ondeund. Hy hoor die merries runnik asof hulle in ‘n grap deel met die henne.
Hy stamp sy voorpote soos die besef deur hom skiet wat aangaan. Hy kyk van die henne na die merries en vernou sy oë en trek sy ore plat. Net omdat mense glo dat hulle geluk bepaal word deur watter dier hulle mag wees, beteken nie dat hy as ‘n perd oor dieselfde kam geskeer moet word nie. Maak nie saak wat die merries te sê het nie.
Hy is ‘n perd. ‘n Sterk, slim perd.
Mick tree nader aan sy mens en lek haar nek. Sy giggel. Die henne gil ongemaklik omdat hy tussen hulle staan. Hy ignoreer hulle en lek sy mens weer. Sy haal ‘n wortel uit haar sak en bied dit vir hom aan. Hy vat klein happies terwyl sy die wortel vashou en hom tussen sy oë vryf.
“Okei, Mick. Geen meer mielies vir jou nie – duidelik maak dit jou ‘n bietjie ooraktief. Wil jy nou gaan oefen?”
Hy runnik, draai sy lyf sodat hy haar arm op sy rug kry en loop met haar stalle toe. Hy hou sy kop omhoog terwyl hulle verby die merries loop. En selfs toe sy mens vir hom die pienk harnas aansit, staan hy absoluut stil met sy lyf oos en laat haar toe om dit te doen. Hy weet dit lyk goed teen sy swart huid. Hy hou die muur met sy trofeë dop. Hy kan al proe hoe sy harde werk beloon gaan word.
En al hierdie stories oor dinge wat jy kan doen om ongeluk te vermy is pure bog wat die merries en henne uitgedink het om hom van sy trollie af te maak.
© 2022 Ronel Janse van Vuuren
